Leon Jones het vanuit sy hospitaalbed met Maroela Media gepraat en gesê hy is vas oortuig dat die vier aanvallers gekom het om hulle dood te maak. “Daar was nie sprake van stilsit en doen wat hulle sê terwyl hulle vat wat hulle wou hê nie. Ek het wakker geword van die eerste hou met ʼn moersleutel teen my kop en my vrou het wakker geskrik van die pyn nadat hulle haar die eerste steekwond in haar arm toegedien het. Al wat ons kon doen is om vir ons lewens te baklei,” het hy gesê.
Hy vertel dat hy opgespring het en een van die aanvallers met die vuis bygedam het, wat hom op die grond laat val het. Dit het ʼn tweede aanvaller na sy vuurwapen laat gryp wat hy op Leon gerig het, maar hy het nie die sneller getrek nie. “Ek dink hulle wou nie skiet nie, want hulle wou nie te veel geraas maak nie. Hulle plan was om ons te vermoor en dan kon hulle rustig deur die huis gaan en kry wat hulle wou hê. Hy het vir my gesê, ‘Do you wanna die? You’ll die tonight’.”
Sy vrou is in ʼn struweling met die derde aanvaller sewe keer gesteek, onder meer ook in ʼn hoofslagaar in haar arm. Die aanvaller het haar só hard gesteek dat haar linkerarm gebreek het. Leon is ook verskeie kere met ʼn mes bygekom en die lem het ʼn gat in sy long gesteek.
Deurentyd het Leon seker gemaak dat hy tussen die aanvallers en sy seun bly sodat hulle hom nie kon bykom nie. Die egpaar se ander seun (8) het deur al die geraas in sy kamer bly slaap.
“Toe hulle sien ons gaan nie ophou baklei nie, het hulle uit die kamer gehardloop. Een van hulle het nog die vermetelheid gehad om eers deur my vrou se handsak te gaan wat op die eetkamertafel gelê het,” het hy gesê.
Leon het daarna met sy vrou na die Unitas-hospitaal gejaag omdat hy bang was sy sou doodbloei as hulle vir ʼn ambulans gewag het.
Die polisie het later gemerk dat die aanvallers die veiligheidshek na die huis en die hek na die slaapkamers met die moersleutel oopgebreek het. Dit is egter nie duidelik hoe hulle in die kompleks gekom het nie, aangesien daar geen teken is dat hulle oor die muur geklim het nie. Selfone, rekenaartablette en ʼn mes is tydens die aanval gesteel.
“Ons is net dankbaar ons lewe,” het Leon gesê. “Ons albei sterk goed aan en ek sal dalk vandag [Vrydag] kan huis toe gaan. Ek weet ek het waarskynlik my familie se lewe gered en ek is dankbaar dat almal oukei is.”
Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.