
Foto: www.iop.org
Die versengende hitte wat groot dele van die land die afgelope week geteister het, het verskeie temperatuurrekords in die slag laat bly.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die kwik Woensdag by Unisa in Pretoria tot ʼn allemintige 41 ºC gestyg.
In Bloemfontein het die kwik 42 ºC bereik. Die vorige rekord vir die Rosestad was 39,3 ºC, wat in 1973 gemeet is.
Op Potchefstroom in Noordwes het die kwik tot 40,3 ºC gestyg, wat die vorige rekord van 38,8 ºC wat in 2001 aangeteken is, oortref het.
Op Taung, ook in Noordwes, is ʼn temperatuur van 44,3 ºC Woensdag gemeet, wat heelwat warmer is as die 41 ºC wat in 1988 aangeteken is.
Op Van Zylsrus in die Noord-Kaap het die kraaie behoorlik gegaap, waar dit ʼn bloedige 45,4 ºC was.
Volgens die weerdiens is die hoogste maksimum temperatuur in Tosca in Noordwes gemeet, waar 46 ºC aangeteken is.
Kobus Olivier, weervoorspeller en navorser by die weerdiens, het gesê dit sal teen die naweek effens koeler raak. “Dit sal egter steeds warm wees, terwyl dit ook bedompig kan wees,” het hy gesê.
Volgens Olivier word reënval teen die naweek vir groot dele van die land voorspel. “Reënval sal egter steeds ondergemiddeld wees vir hierdie tyd van die jaar,” het hy gesê.