Só het die burgerregte-organisasie AfriForum Woensdag gesê in reaksie op die regerende party se uitspraak dat enige optrede wat rassisties is of apartheid loof, gekriminaliseer moet word. Stone Sizani, hoofsweep van die ANC, het gesê die party sal ondersoek instel hoe ʼn spesifieke wet geskep of bestaande wetgewing gewysig kan word om te verseker dat rassistiese uitsprake tot gevangenisstraf kan lei.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê indien hierdie voorgestelde wetgewing konsekwent toegepas word, sal dit beteken dat verskeie ANC- en regeringsleiers tronk toe sal moet gaan. “Die probleem is egter dat die ANC grof inkonsekwent is wanneer dit by die stryd teen rassisme kom,” het hy gesê.
“Die ANC het byvoorbeeld in die hof en voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aangevoer dat daar niks mee skort om liedere soos ‘Skiet die Boer’ en ‘Kill the Boer, kill the farmer’ by ANC-saamtrekke te sing nie. Me Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, het op internasionale televisie aangevoer dat jong Afrikanermans in die Calvinistiese geloof grootgemaak word en hulle dus glo dat hulle ’n vrou en ’n kind besit.
“Julius Malema, tóé nog die ANC-jeugleier, het in die teenwoordigheid van pres. Jacob Zuma aangevoer dat alle witmense ‘kriminele’ is en dat hulle as sodanig behandel moet word, sonder enige gevolge. Me Makgabo Reginah Mhaule, die ANC-LUR vir onderwys in Mpumalanga, het daarop aangedring dat jeugontwikkelingskampe wat deur haar departement gefasiliteer word, ’n streng ‘blacks only’-beleid moet volg. Mnr. Jimmy Manyi, die regering se voormalige woordvoerder, het op nasionale televisie aangevoer dat daar te veel bruinmense in die Wes-Kaap is en dat hulle oor die hele land versprei moet word.
“Dit is maar enkele voorbeelde van growwe rassistiese kommentaar deur senior ANC-leiers,” het Roets gesê.
Intussen het die vakbond Solidariteit ook gesê die ANC se opvatting van rassisme is eensydig van aard en fokus slegs op wit teenoor swart rassisme, terwyl rassisme daagliks tussen verskeie rassegroepe in Suid-Afrika plaasvind.
Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit, het gesê die ANC se “beheptheid met ras en rassewetgewing” help nie om ʼn nierassige samelewing te bewerkstellig nie. “Sommige kommentaar wat na aanleiding van die Penny Sparrow-inskrywing op sosialemediaplatforms geplaas is, is blatante rassisme oor verskeie rassegroepe heen en nie net deur een groep teenoor ’n ander nie,” het hy gesê.
“Rassisme kan nie geduld word nie, en dit is belangrik dat daarna gestreef moet word om alle vorme van rassisme in die kiem te smoor.”