Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici van verskillende ambulansdienste het by die toneel net buite die Krugersdorp-natuurreservaat opgedaag en die wrakstukke van die bakkies langs die pad sien staan.
“Albei bestuurders was in hul onderskeie voertuie vasgepen en in ʼn kritieke toestand,” het Meiring gesê. Agter in een van die bakkies was ʼn sewejarige seun en negejarige meisie wat gelukkig net matige beserings opgedoen het.
“Reddingsdienste moes meganiese toerusting gebruik om die mans uit die wrakke los te sny, waarna hulle op die toneel gestabiliseer is. Een van die mans is per helikopter na ʼn privaat hospitaal vervoer, terwyl die ander bestuurder per ambulans na die Krugersdorp-hospitaal geneem is,” het Meiring gesê.
Die botsing sal deur die polisie ondersoek word.

