Dit volg nadat 2015 se matriekresultate gister deur die departement van onderwys bekendgemaak is.
In sy jongste verslag oor werkvooruitsigte vir matrikulante benadruk die Solidariteit-navorsingsinstituut die feit dat die moderne ekonomie veel meer kennis van jong mense vereis as dit wat deur ’n matriekkwalifikasie gebied word.
“Die verslag dui daarop dat die besit van ’n matrieksertifikaat nie ’n baie groot invloed het op ’n persoon se kans om werk te kry nie,” sê Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit.
“Onder werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie het slegs sowat 30% in 2011 meer as R6 400 per maand verdien terwyl van die groep werkende mense wat oor matriek, asook ʼn sertifikaat of diploma beskik, meer as 50% ʼn inkomste van meer as R6 400 per maand verdien het. Wanneer persone egter oor ’n graad beskik, verhoog die persentasie tot bo 80%,” het Redelinghuys verduidelik.
“Luidens die verslag word Suid-Afrika se arbeidsmark reeds dekades lank oorweldig deur ’n groot ooraanbod van mense met geen of min opleiding. Hoewel die eng werkloosheidskoers in Suid-Afrika op 25,5% staan, is dit meer kommerwekkend dat die werkende groep nie eens 44% van die totale getal mense van werksouderdom uitmaak nie. In ʼn welvarende land moet hierdie persentasie nader aan 65% wees,” sê Redelinghuys.
“Dit gaan waarskynlik moeilik wees vir diegene wat hul matrieksertifikate in 2016 ontvang het en dadelik wil begin om werk te kry – veral ʼn werk wat goeie vergoeding bied. Natuurlik word niemand hiermee afgeraai om wel vir werk, énige werk, aansoek te doen nie. Die beste opsie bly egter verdere opleiding,” het Redelinghuys gesê.
Klik hier om die volledige verslag te lees.