
Argieffoto: SAPD/Facebook
Lt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, het gesê die egpaar se liggame is Maandagoggend in ʼn huis op die plaas aangetref. Volgens Tawana was die egpaar opsigters op die plaas. ʼn Plaaswerker het Maandagoggend onraad gemerk toe hy op die plaas opdaag en daar geen teken van hulle was nie.
Die plaaswerker het die eienaar van die plaas in kennis gestel waarna die polisie ontbied is. Volgens Tawana het polisiebeamptes deur die huis se venster geloer en die man se liggaam op ʼn bed sien lê. “Die beamptes het die huis se deur oopgebreek en die vrou se liggaam op ʼn stoel in die kombuis gevind. Sy het ʼn skietwond gehad.”
Volgens Tawana het die man ook ʼn skietwond gehad en is ʼn vuurwapen langs hom op die bed aangetref. “In dié stadium vermoed ons geen gemene spel nie.” Tawana het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat die man moontlik sy vrou en toe homself geskiet het.
Die egpaar is Sondag die laaste keer op die plaas gesien.