
Foto: SAPD
Twee vermeende dwelmhandelaars is Saterdag by verblyf-eenhede in Umkomaas aan die KwaZulu-Natalse Suidkus in hegtenis geneem nadat heroïen in hul besit gevind is.
Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die Umzinto K9-eenheid het ʼn wenk opgevolg oor dwelms wat na bewering by verblyf-eenhede in die gebied verkoop word.
In een van die huisies is ʼn 27-jarige vrou betrap met 200 strooitjies heroïen en R3 393 kontant in haar besit. “Daar is op die dwelms sowel as die kontant beslag gelê aangesien daar vermoed word dat dit geld is wat sy deur dwelmhandel verdien het,” het Zwane gesê.
By nog ʼn eenheid is ʼn 26-jarige man in hegtenis geneem nadat 619 strooitjies heroïen in sy besit gevind is.
Albei verdagtes sal na verwagting Maandag in die Scottburgh-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmhandel.
Lt. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap bedank vir die waardevolle inligting wat tot die twee verdagtes se inhegtenisneming gelei het. “Ons sal voortgaan in ons pogings om KwaZulu-Natal ʼn dwelmvrye provinsie te maak,” het sy gesê.