
Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)
ʼn Jong man van Glen Marais in Johannesburg is Saterdagaand aangerand en halfnaak aan ʼn boom vasgemaak nadat hy deur drie mans gekaap is. Die verdagtes het met sy motor, ʼn Chevrolet Aveo, van die toneel weggejaag.
Johan Claassen, ʼn reaksiebeampte van MML Security, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy en sy kollega, Chris Kallis, het hulle tot die man se redding gehaas nadat ʼn patrolleerder hom omstreeks 20:45 halfnaak teen die boom vasgemaak gesien het. Hy is met sy eie gordel aan die boom vasgemaak. Sy gesig was bebloed en van sy ribbebene is glo gebreek.
“Hy was erg getraumatiseerd en dit was baie koud. Volgens paramedici het hy vroeë fases van verkluiming gehad,” het Claassen gesê.
Die beamptes kon sy naam as Richard Slow vasstel en het ʼn adres gekry waar hy saam met sy ouers, nie te ver van waar hy af aangetref is nie, woon. Claassen het by die slagoffer gewag en paramedici en die polisie ontbied terwyl Kallis die jong man, in sy 20’s, se ouers gaan haal het.
Paramedici van ER24 het hom op die toneel gestabiliseer en na die Tembisa-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Ao. Neldah Sekgobela, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die saak word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.