Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Werker op kleinhoewe buite Pta doodgeskiet

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Saak van moord word ondersoek nadat ʼn 46-jarige man Dinsdagoggend op ʼn kleinhoewe in Wallmannsthal, noord van Pretoria, doodgeskiet is.

Ao. Isaac Mangena, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die man was ʼn werker op die plaas. Sy naam is nie in hierdie stadium bekend nie.

Mangena het gesê twee werkers was omstreeks 07:30 besig om diere buite op die erf te voer toe hulle honde in die huis hoor blaf het. Aangesien die eienaars van die huis gery het om hul kinders skool toe te neem, het die werkers gaan ondersoek instel.

In die huis is hulle deur ʼn verdagte oorval wat ʼn vuurwapen op hulle gerig het. ʼn Struweling het ontstaan en een van die werkers, glo 26 jaar oud, kon daarin slaag om uit die huis te hardloop en hulp te gaan soek. Oomblikke later was hy saam met die bure terug by die huis, waar hulle die ander werker se liggaam in ʼn plas bloed op die vloer aangetref het. Hy is geskiet.

Mangena kon nie dadelik bevestig waar die werker geskiet is nie en het gesê paramedici was steeds op die toneel besig.

Die rower het skynbaar met net een selfoon gevlug, het hy gesê. ʼn Saak van moord word ondersoek.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621