
‘n Groot skare geniet die Kersliggies by Kohlmarkt-straat in Wene (19 Desember 2015) Foto: Christian Bruna, epa
Die polisie in Wene het Saterdag gesê hulle het waarskuwings ontvang van ʼn “vriendskaplike” intelligensiediens dat Europese hoofstede moontlik voor die Nuwejaar terreuraanvalle kan beleef.
“ʼn Vriendskaplike intelligensiediens het voor Kersfees ʼn waarskuwing aan verskeie Europese hoofstede gestuur om te sê dat moontlike bom- of skietaanvalle kan plaasvind in plekke waar ʼn groot skare tussen Kersfees en Nuwejaar vergader,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.
Volgens die Weense polisie is moontlike aanvallers se name in die waarskuwing bekend gemaak, maar ʼn ondersoek het tot dusver nog nie enigiets opgelewer nie.
Die polisie het gesê in reaksie op die waarskuwing sal veiligheid by openbare plekke en op paaie in Wene en Oostenryk verskerp word.
Die waarskuwing volg ná 130 persone in ʼn reeks terreuraanvalle op 13 November in Parys, Frankryk, gesterf het.