Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Munisipaliteite gemaan om Eskom-skuld te betaal

$
0
0

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Woensdag ʼn beroep op munisipaliteite gedoen om hul Eskom-skuld te vereffen.

“Dit is onaanvaarbaar dat landsburgers moet ly, veral gedurende die feesseisoen,” het Brown gesê. “Munisipaliteite moet verantwoordelikheid aan die dag lê en dié met uitstaande skuld moet Eskom dadelik nader om ooreen te kom hoe hulle dié geld gaan betaal.”

Die minister se uitsprake kom ʼn dag nadat inwoners van vier munisipaliteite in die Oos-Kaap tegelykertyd kragonderbrekings ervaar het aangesien hulle gesamentlik R173 miljoen aan Eskom skuld. Eskom het Dinsdag gesê hy sal voortaan, as ʼn laaste uitweg, kragonderbrekings tussen spitstye vir nege uur elke dag toepas, aangesien dié munisipaliteite nie op sy skriftelike waarskuwings gereageer het nie.

Nadat Phumulo Masualle, die Oos-Kaapse premier, ingegryp het, het Eskom die kragonderbrekings opgeskort en ʼn “aansienlike bedrag” van die skuld is in Eskom se bankrekening inbetaal.

Khule Phasiwe, woordvoerder van Eskom, wou nie onthul presies hoeveel geld aan die kragvoorsiener betaal is nie, maar het gesê dit is “miljoene rande” en dat nog ʼn betaling teen die einde van die maand verwag word. “Ons sal hulle by die ooreenkoms hou. Die bal is nou in hulle hande,” het hy gesê.

Indien die volgende betaling nie teen 31 Desember in Eskom se bankrekening reflekteer nie, sal die inwoners van die vier munisipaliteite weer kragonderbrekings ervaar.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621