
Foto: Vusumuzi Shongwe op Twitter.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag gesê die doringdraad wat om die Paul Kruger-monument op Kerkplein in Pretoria aangebring is, is ʼn kragtige boodskap oor die owerhede se gebrek aan leierskap.
Foto’s van die standbeeld wat nou deur rolle lemmetjiesdraad omring is, is vandeesweek deur talle sosiale gebruikers op verskeie platforms gedeel.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die Tshwane-metroraad en regerende party kon in 2015 nie daarin slaag om bewusmaking te skep daarvoor dat historiese figure uit die verlede in hul tydskonteks beoordeel moet word en dat erfenis gerespekteer moet word nie. Die gevolg is dat standbeelde en monumente steeds die teiken van politieke vandale bly en dat daar nou tot hierdie uiterstes oorgegaan moet word om dié monument te beskerm.
“In plaas van gesonde debat en ʼn voortdurende dialoog oor die verlede, is die beste oplossings waarmee owerhede in Suid-Afrika skynbaar vorendag kan kom, om beelde af te sper, te bedek of selfs nog erger, te verwyder. Dit verander niks aan die verlede nie en polariseer gemeenskappe in die land op ʼn al gevaarliker wyse,” het Bailey gesê.

Foto: Vusumuzi Shongwe op Twitter.
Bailey het verder bygevoeg dat die Paul Kruger-standbeeld ironies genoeg net soos die meeste Suid-Afrikaners, haarself inkluis, dié Kerstyd agter doringdraad tegemoet gaan in ʼn poging om aan misdadigers te ontsnap. “So verkry die beeldegroep en lemmetjiesdraad ook ʼn nuwe betekenis, aangesien dit grafies illustreer hoe alle Suid-Afrikaners aan misdaad uitgelewer is weens die owerhede se onvermoë om ons na behore te beskerm.”