
Argieffoto
ʼn Ambulans is Maandagaand in die uMgungundlovu-distrik in KwaZulu-Natal gekaap en aan die brand gesteek.
Dr Sibongiseni Dhlomo, LUR vir die provinsiale departement van gesondheid, het gesê die voorval het omstreeks 22:00 in Empolweni plaasgevind.
Na wat verneem word, is ʼn oproep na die uMgungundlovu–inbelsentrum gemaak. Daar is gesê dat ’n vrou in die gebied in kraam is en noodhulp benodig. Volgens Dhlomo is die ambulans na die gebied gestuur drie minute nadat die oproep ontvang is.
“Toe die ambulans by sy bestemming opdaag, is die insittendes deur twee mans met vuurwapens oorval en beroof,” het hy gesê.
Die aanvallers het geëis dat die ambulanspersoneel hul selfone oorhandig, waarna hulle beveel is om weg te hardloop.
“Die kapers het die ambulans aan die brand gesteek en met twee selfone op die vlug geslaan,” het hy gesê.
Dhlomo het die vernietiging van die ambulans ten sterkste veroordeel.
“Ons betreur hierdie aanval en die verwoesting van broodnodige mediese toerusting en noodvoertuig. Daar sal berading beskikbaar gestel word vir die betrokke noodpersoneel om die gebeure te help verwerk.”