Die skorsing is wyd as die einde van die 79-jarige Blatter se loopbaan beskryf. Fifa het in ʼn verklaring gesê die skorsing is onmiddellik van toepassing en het betrekking op alle sokkerverwante aktiwiteite “administratief en andersins” op nasionale en internasionale vlakke.
Die besluit deur die organisasie se etiekkomitee hou verband met ʼn betaling van 2 miljoen Sweedse frank van Fifa aan Platini in Februarie 2011. Blatter het die betaling in sy amp as Fifa-president goedgekeur.
Die komitee het die mans se bewerings dat hulle onskuldig is ter syde gestel en bevind dat die betaling onreëlmatig was ten spyte van ʼn getekende ooreenkoms wat die twee in Augustus 1999 aangegaan het. Die komitee het ook gesê nie een van die twee kon wetlike gronde vir die betaling voorsien nie.
Die verklaring het ook genoem dat daar nie genoeg bewyse is om die betaling as korrupsie of omkoopgeld te klassifiseer nie, maar dat dit wel die organisasie se beleid oor die aanbied en aanvaarding van geskenke en ander voordele oortree.
Die organisasie het gesê die betaling dui daarop dat beide Blatter en Platini “nie toegewyd is aan ʼn etiese houding nie” en hul posisies misbruik.
Behalwe vir die agt jaar skorsing is Blatter 50 000 Sweedse frank (sowat (R758 000) en Platini 80 000 Sweedse Frank (sowat R1,21 miljoen) beboet.