
Mandrax-tablette
(argieffoto)
ʼn 23-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering nagemaakte sokkerwedstrydkaartjies buite die Kaapstad-stadion verkoop het.
Die voorval het Saterdag plaasgevind kort voor Bidvest Wits kragte gemeet het teen Kaizer Chiefs. Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit van die Stad Kaapstad, is 63 vervalste toegangskaartjies in die verdagte se besit gevind.
Smith het gesê die man is nie die enigste misdadiger wat oor die naweek in die stad aangekeer is nie. ʼn Dwelmhandelaar is dieselfde dag ook in Parkwood vasgetrek.
“Daar is beslag gelê op tik, Mandrax, heroïen en dagga wat in sy besit gevind is nadat hy in ʼn stegie by die Parkwood Walk-winkelsentrum in hegtenis geneem is,” het hy gesê.
ʼn Hond van die polisie se K9-honde-eenheid het ʼn verdere 60 sakkies Mandrax uitgesnuffel wat in ’n elektrisiteitsboks versteek was.