Clik here to view.

Argieffoto
Inwoners van Pretoria is Maandag gewaarsku dat diegene wat vuurwerke sonder die nodige toestemming gebruik, swaar beboet sal word.
Senior supt. Isaac Mahamba, polisiewoordvoerder, het gesê inwoners wat vuurwerke wil afvuur, moet die nodige toestemming daarvoor kry. Inwoners wat lawaaierige vuurwerke afvuur, kan ingevolge die Gautengse Regulasies op Geraasbeheer beboet word, het hy gesê.
Volgens Mahamba word die perseel van persone wat aansoek doen om vuurwerke te verkoop, besoek, om te verseker dat daar aan die nodige vereistes voldoen word voordat ʼn vuurwerkpermit uitgereik word.
“Besighede moet aan streng vereistes voldoen, byvoorbeeld daar moet geen obstruksie voor brandblussers wees nie, daar moet ‘Geen Rook’-bordjies aangebring wees en die vuurwerke moet agter ʼn toonbank gehou word,” het hy gesê.
“Persone wat die wet oortree, sal ʼn boete van R2 500 opgelê word en kan moontlik strafregtelik vervolg word.”
Mahamba het gesê ondernemings wat vuurwerke wil verkoop, moes reeds teen 23 November daarvoor aansoek gedoen het.
“Hierdie besighede word ook gewaarsku dat dit onwettig is om die vuurwerke langs verkeersligte en op sypaadjies te adverteer.”
Hy het ʼn beroep op inwoners gedoen om die owerhede dadelik in kennis te stel as hulle informele handelaars sien wat vuurwerke by verkeersligte verkoop.