Vier mans is in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
“Polisiebeamptes van die bende-eenheid binne die Nyanga-polisiëringsgroep het Saterdag drie verdagtes, tussen 38 en 40 jaar oud, in Gugulethu in hegtenis geneem,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie het beslag gelê op 96 lewende LMG (ligte masjiengeweer)-rondtes wat in ʼn plastieksak in die badkamer versteek is.” Die polisie het die klopjag uitgevoer nadat hulle ʼn wenk ontvang het.
Die mans word by die Gugulethu-polisiestasie aangehou en sal Maandag in die Philippi-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ammunisie.
“Dieselfde beamptes het omstreeks 16:30 tydens ʼn stop-en-deursoek-operasie in Philippi-Oos ʼn 25-jarige verdagte in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde 9 mm Norinco-vuurwapen met twee lewendige rondtes.”
Die man sal ook na verwagting Maandag in die Philippi-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.