
Argieffoto
Lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) van Kokstad, KwaZulu-Natal, word daarvan beskuldig dat hulle ʼn bestuurder van ʼn hospitaal gedreig het.
“Dr. Mongi Assadi, mediese bestuurder by die EG Usher-gedenkhospitaal, is deur die EFF-lede gedreig wat die hospitaal betree het onder voorwendsel dat hulle pasiënte is,” het Sibongiseni Dhlomo, provinsiale LUR vir gesondheid, gesê.
Volgens ʼn verklaring wat deur die departement van gesondheid uitgereik is, het die EFF-lede die hospitaal betree voordat hulle baniere begin rondswaai het en teen Assadi begin toi-toi het, aangesien hy van Tunisië afkomstig is.
Volgens die departement is van die verpleegsters en ander personeellede gedwing om ʼn memorandum te onderteken waarin Assadi, en die uitvoerende hoof van die hospitaal, ene me. N Binase, se afdanking geëis word.
“Dr. Assadi werk al sedert 2008 vasberade in die Kokstad-gemeenskap,” het Dhlomo in die verklaring gesê. “Hy het ingestem om in Suid-Afrika te kom werk in ʼn plek waar opgeleide Suid-Afrikaanse dokters onwillig was om te bly en te werk. Ons kan dus nie toelaat dat enige individu, of enige lid van enige politieke party hom of enige ander toegewyde en hardwerkende professionele persone dreig of beseer nie.”
Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het Vrydag gesê hy is bewus van ʼn voorval wat Sondag by die hospitaal plaasgevind het, maar was onder die indruk dat dit opgeklaar is. “Buiten die voorval wat Sondag plaasgevind het, is ʼn saak van intimidasie aan die begin van verlede week aanhangig gemaak ná ʼn dreigement wat die 49-jarige Assadi telefonies ontvang het,” het hy gesê. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Die EFF was nie dadelik beskikbaar om kommentaar te lewer nie.