
Argieffoto
ʼn 27-jarige man is Donderdag op Durban se strand met ʼn mes doodgesteek, ure nadat die polisie hul veiligheidsplanne vir die feesseisoen op dié strand bekend gemaak het.
Volgens maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, is die man deur drie mans aangeval wat hom wou beroof. Die voorval het omstreeks 03:00 naby die swembaddens op Noordstrand plaasgevind.
“Die man was nie ʼn toeris nie,” het Zwane gesê. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”
Maroela Media het vroeër berig die Margate-polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat Sharlene Zanten (15) Woensdag in Trafalgar naby Sanlameer, waar sy op vakansie was, glo vir haar selfoon vermoor is.
Lt.genl. Betty Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, genl.maj. Berning Ntlemeza van die Valke en lt.genl. Bonang Ngwenya, adjunkpolisiekommissaris, was op die strand om die polisie se veiligheidsplan vir die feesseisoen aan te kondig.