
Mbuyiseni Ndlozi. Foto: Twitter
“Vir die EFF is die 2015-Versoeningsdag ʼn belangrike herinnering aan die feit dat ons mense sonder die versoening van grond en bestaansmiddele besoekers in die land van hul geboorte bly. Ons glo dat die vredesooreenkomste van 1994 in gebreke bly totdat die land teruggegee word aan die swart meerderheid,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, gesê.
“Versoeningsdag is ʼn dag wanneer ons terugkyk op die rasseoorlog, geweld en onteiening wat inheemse mense gely het aan die hand van wit koloniale en apartheidsmagte. Dit is ʼn dag waarop ons die vordering van die totstandkoming van ʼn vreedsame samelewing tussen die opvolgende geslagte van die onderdruktes en onderdrukkers evalueer. Ons vra hoe demokrasie, soos dit gestalte gekry het in ons grondwet, daarin geslaag het om rasgekoppelde oppermag uit te wis en ʼn werklik regverdige en gelyke samelewing teweeg te bring.”
Ndlozi het gesê die realiteit is dat Suid-Afrika se maatskaplike samehorigheid 21 jaar ná 1994 aan ʼn draadjie hang met die lewens van histories onderdruktes slegter daaraan toe as gevolg van armoede, werkloosheid en vernedering.
“Dit terwyl die lewens van die begunstigdes van die moordende apartheidsregime voortgaan om in rykdom te floreer. Die meerderheid van swart mense gaan voort om te ly sonder grond, as gevolg van uitbuiting van goedkoop arbeid, hongersnood, swak skoolopleiding en gesondheidsorg, soos hulle gedoen het onder koloniale en apartheidsbewind.”
Volgens Ndlozi het die post-apartheid demokratiese regering net op sport en ander kulturele simbole staatgemaak om nasionale samehorigheid te bou.
“Dit is sinloos om elke jaar oor versoening en vergifnis te bly praat sonder om uit te maak presies watter rasseonteiening ʼn koloniale en apartheidsverlede tot stand gebring het. Die gesprek oor versoening is onderdrukkend as ingrypende grondhervorming nie deel is daarvan nie. Niks is boser nie as om armes, wat eeue lank gebuk gegaan het onder onteiening en koloniale geweld, te vra om in rasseversoening te glo terwyl hulle steeds bly leef soos die geval was onder kolonialisme.”
Ndlozi het gesê Suid-Afrika se wit monopoliekapitaal is die grootste struikelblok tot nasionale versoening.