
Sibusiso Ndebele. Foto: www.timeslive.co.za
ʼn Voormalige minister het in die Durbanse handelshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie.
Die aanklagte spruit voort uit beweerde omkoopgeld ter waarde van R10 miljoen wat Sibusiso (S’bu) Ndebele na bewering ontvang het. Ndebele was minister van vervoer tussen 2009 en 2012, waarna hy tussen 2012 en 2014 as minister van korrektiewe dienste gedien het.
Adv. Luyuyo Mfako, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het bevestig Ndebele is Dinsdag op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy was nie bereid om enige besonderhede oor die aanklagte teen Ndebele bekend te maak nie, “omdat dit die ondersoek in die wiele kan ry”.
Ndebele se verhoor is tot 20 Julie 2016 uitgestel, wanneer hy in die Pretoria-streekhof sal verskyn.
Volgens Mfaku sal “Ndebele saam met die voormalige direkteur-generaal van die departement van vervoer, George Mahlalela, Zakhele Thwala, Sibusiso Justin Ncube en Tebogo Mphuti tereg staan”.
Die ander vier beskuldigdes is Maandag in die Pretoria-streekshof op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery, wat verband hou met beweerde verdagte transaksies van MSRD (Pty Ltd.), Brand Partners en Sinosa Construction.