Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Seun (8) sterf ná honde hom aanval

$
0
0

James Sinkins. Foto: Facebook

James Sinkins. Foto: Facebook

ʼn Agtjarige seuntjie van Howick in KwaZulu-Natal is Vrydag dood nadat hy deur twee honde verskeur is.

James Sinkins is glo deur die twee honde, Duitse herdershond-kruisings, aangeval terwyl hy Donderdagmiddag in sy ouerhuis se tuin gespeel het. Die honde het glo uit die bure se erf ontsnap en James aangeval.

Volgens The Mercury het die honde James gegryp en van sy fiets afgeruk. Hy is aan sy nek en been gebyt. James se ma, Estelle, het hom na ʼn hospitaal gehaas waar hy bloedoortappings moes ontvang nadat sy slagaar stukkend gebyt is. Dokters het ook opereer om die aar te heg.

James se toestand was deurentyd ernstig en Vrydag om 16:22 het Estelle die nuus van haar seun se dood op haar Facebook-profiel gedeel. “Dit is alles oor. James is ʼn paar minute terug dood weens hartprobleme. Ek kan dit net nie glo nie.”

Sondag het Estelle geskryf hoe James haar en almal rondom hom se lewens aangeraak het. “Ek probeer dit en die herinnering van jou dierbare drukkies en skattige giggel na aan my hart hou. Ek is lief vir jou, nou en vir ewig.”

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie ondersoek die voorval. Niemand is egter in hegtenis geneem nie en geen aanklagte is teen die eienaars van die honde aanhangig gemaak nie. Die honde is van kant gemaak.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621