Desjuane Farmer, die 17-maande oue peuter van Alberton wat Woensdag deur ʼn hond aangeval is, het Sondag haar derde operasie ondergaan.
Mercia, Desjuane se ouma, het aan Maroela Media gesê die operasie het baie goed afgeloop en die verbande is al van Desjuane se gesig verwyder. “Die chirurge het [Sondag] eers ʼn plaat oor haar neusbrug ingesit waar die bene in haar gesig gebreek is. Daarna het die oogspesialiste van die skade aan haar ogies herstel,” het sy gesê.
“Ons weet nog nie presies hoe erg die skade aan haar oë is nie, maar tans herstel sy baie goed. Sy was gister ná die operasie baie rustig en word nie meer so sterk verdoof nie. Sy is só ʼn vegtertjie, dit is absoluut ongelooflik om te sien hoe sy al verbeter het. Ons het in hierdie laaste paar dae wonderwerke sien gebeur. Dit is alles net genade van Bo.”
Desjuane is steeds in die waakeenheid van die Netcare Clinton hospitaal nadat ʼn kettingboel (bull mastiff) haar Woensdag by haar ma, Hilda Sage, se werkgewer se huis gegryp het. Mercia het vroeër aan Maroela Media vertel dat Desjuane saam met haar ouers en ander gaste in die huis was, terwyl die hond buite in die erf was. Die hond het onverwags die huis se hek oopgestoot en Desjuane bestorm. Die dier is intussen van kant gemaak.
Volgens Mercia is die gesin hoegenaamd nie kwaad vir die eienaar van die hond nie en beskou hulle die voorval as ʼn ongeluk wat met enigiemand kon gebeur. “Die eienaar van die hond het self klein kindertjies en die hond het nog nooit voorheen iemand gebyt nie. Die hond was in elk geval buite die huis toegemaak en niemand kon voorsien dat hy die hek sou oopruk nie. Dit was ʼn ongeluk. Dit kon met my of met jou ook gebeur het. Dit was net ʼn ongeluk,” het sy gesê.
Sy het gesê hulle besef ook hoe moeilik dit vir die eienaar van die hond moes wees om haar troeteldier van kant te maak en daarom is daar geen kwade gevoelens tussen die twee partye nie.
“Ons fokus is 100% op Desjuane en haar herstel. Ons hou styf duimvas sy sal dalk voor Kersfees terug by die huis wees,” het sy gesê. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir al die gebede, boodskappe en ondersteuning wat van oraloor instroom nie. Dit dra ons familie in hierdie tyd. As enige iemand vir my sê wonderwerke bestaan nie, sê ek vir hulle om net na my kleindogter te kyk. God is groot!”