Twee mense is dood toe ʼn voertuig Sondagoggend op die N1 by die Buccleuch-wisselaar noord van Johannesburg omgeslaan het en teen ʼn paal tot stilstand gekom het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 08:00 na die toneel ontbied. “Toe paramedici by die toneel opdaag, het hulle die wrak van die motor gevind waar dit op ʼn grasbank teen die paal staan met die beseerdes steeds binne vasgekeer,” het Botha gesê.
“Lede van die brandweerdienste moes meganiese toerusting gebruik om die insittendes uit die motor te sny. Die bestuurder, ʼn burger van Swaziland, het reeds aan sy beserings beswyk, terwyl sy passasier in ʼn kritieke toestand was. Paramedici het onverpoos gewerk om die pasiënt te stabiliseer, maar hy is ten spyte van hul pogings op die toneel dood.”
Die polisie was op die toneel om die ongeluk te ondersoek, het Botha gesê.