Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê ná samesprekings tussen die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, en die Gautengse premier, David Makhura, is daar besluit om hierdie drastiese stap te neem ter wille van die leerders.
“’n Ontleding deur die departement het getoon dat die werk waarmee die leerders tans besig is, al teen Mei afgehandel moes gewees het,” het Sekhonyane gesê. “Daar is besluit om dringend in te gryp en die leerders na Lufhereng Primary School te verskuif.”
Sekhonyane het gesê die onderwysers van Roodepoort Primary School sal ook na Lufhereng Primary School verskuif word. Die departement sal die skool se leerders elke oggend vanaf ses verskillende punte na Lufhereng Primary School vervoer.
Intussen is ʼn taakspan aangestel wat bestaan uit godsdienstige en gemeenskapsleiers wat as bemiddelaar tussen die skool en die gemeenskap sal optree om ʼn volhoubare oplossing vir die inwoners se probleme te vind. “Die skool sal heropen sodra kalmte in die gebied herstel is,” het sy gesê.
Lesufi en Makhura het Vrydagmiddag met ouers van die skool se leerders vergader in die hoop om oplossings te vind wat verhoed dat die skool gesluit moet word. Lesufi het reeds vroeër vanjaar die skool tydelik gesluit omdat voorvalle van geweld onbeheerbaar geraak het. Die skool is kort daarna weer heropen en ʼn veiligheidsmaatskappy met gewapende wagte is aangestel om die skoolterrein te bewaak en gange te patrolleer.
