Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: ’n Leeu, vermoorde polisielede en plaasmoorde

$
0
0

Grafika: Maroela Media

Grafika: Maroela Media

Die lot van Cecil die leeu het pas op talle sosiale netwerke alle vorige rekords van deelname verpletter. Is daar nie iets skeefgetrek dat die hartseer lot van ’n leeu by mense swaarder weeg as die lot van slagoffers van plaasmoorde nie?

Skeefgetrek, ja beslis, en soos gebruiklik kry die media ook minstens deel van die skuld.

Die internasionale ophef oor Cecil die leeu wat in Zimbabwe uit ’n wildpark gelok is, en daarbuite deur ’n Amerikaanse beroepsjagter met ’n boog doodgeskiet is, maak steeds opslae in die internasionale media. Die sosiale media word behoorlik oorstroom …

Terselfdertyd is daar in Suid-Afrika ’n vlaag moorde op polisielede, en ampsweë – ook van die kant van pres. Jacob Zuma – word kommer hieroor uitgespreek. Dit kry egter nie naastenby die wêreldwye bykans histeriese nuusdekking en aandag van die sosiale media wat Cecil se lot te beurt geval het nie.

En intussen gaan plaasaanvalle, met plaasmoorde, onverbiddelik voort. ’n Groot deel van die media het glad nie eens verwys na hoe naasbestaandes wat ’n petisie tydens ’n goedgekeurde optog by die SAPD se hoofkantoor in Pretoria gaan indien het, deur die polisie rondgestamp is nie.

Pro rata word meer boere en hul gesinslede in Suid-Afrika tydens plaasaanvalle vermoor as wat polisielede vermoor word. Dit, op sigself, is ’n skreiende skande, veral teen die agtergrond van die regering se halsstarrige weiering om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te verklaar. Die ondersoeke na polisiemoorde is in ’n japtrap geprioritiseer.

Die lot van diere is al lank iets wat die mensdom kan aangryp. In 1928 het Huberta die seekoei haar blyplek in die St. Luciameer verlaat, en ’n epiese tog van 1 600 kilometer na Oos-Londen aangepak. Sy is deur skares gevolg, en die media het behoorlik oor haar tog berig. In 1932 is sy, al was sy tot kroonwild verklaar, deur jagters doodgeskiet. Hulle is ná openbare druk tot 25 pond elk gevonnis. Sowat 20 000 mense het haar opgestopte karkas ingewag toe dit uit Londen teruggekeer het.

’n Mens kan maar net dink hoe ’n groot ophef daar sou wees as die sosiale media destyds reeds bestaan het, en die konsepte van bewaring reeds so goed gevestig was as nou.

Die gevaar van die ophef oor Cecil is dat dit die baba met die badwater kan uitslinger. ’n Goed georganiseerde wildsboerdery is noodsaaklik vir die voortbestaan van heelwat spesies. Nie alleen sorg boere dat skaars spesies weer vermeerder nie, maar genetiese materiaal word uitgeruil om te sorg dat inteling beperk word. Getalle word streng gereguleer, en baie werksgeleenthede word geskep in gebiede wat andersins dikwels te marginaal is om ’n relatiewe veilige akker- en veeboerdery te verseker.

Talle mense maak daarop aanspraak dat die jaarlikse kommersiële oes van renosterhoring (sonder om die renosters dood te maak) die grootste kans bied vir hierdie spesies om te oorleef.

Nou slaan Zimbabwe met verskerpte maatreëls toe, en 5 000 werksgeleenthede kan in die buurland in die slag bly, en die land kan $45 miljoen aan inkomste vanjaar verloor.

Soos in enige beroep is daar ook in die jagbedryf vrot appels. Dit is hierdie vrot appels wat die internasionale media kort-kort soos ’n hamerhou moker, en sensasie tot gevolg het.

Soms is daar ook positiewe gevolge. Die afgelope aantal jare het verskeie lugdienste begin weier om jagtrofees te vervoer. Hieronder tel Air France, KLM, Iberia, IAG Cargo, Singapore Airlines en Qantas. Die Amerikaanse maatskappy, Delta, wat talle vlugte tussen die VSA en Afrika aanbied, het egter vasgeskop. Ná die Cecil-voorval het die druk in die sosiale media op Delta so groot geword en is ’n petisie aanlyn geplaas, wat Delta genoop het om die handdoek in te werp.

Niks gaan Cecil die leeu na die lewe terugbring nie. Wat wel kan gebeur, is dat daar oor die wêreld heen ’n groter bewuswording ontwikkel oor hoe belangrik volhoubare (en menslike) benutting is om sekere spesies se toekoms te verseker. Tog moet ’n mens jou ook die vraag afvra hoe dit moontlik is dat die lot van een leeu die wreedste plaasmoorde denkbaar so totaal op die sosiale media kan afstof. Het ons afgestomp geraak? Is dit ’n soort ontsnappingsmeganisme uit die harde werklikheid?

Die kleine Willemientjie Potgieter wie se ideaal dit was om by die Kleuterkrans ’n lofkleuter te word, maar wreed saam met haar ouers vermoor is, het die land aangegryp, maar volgens die syfers van die sosiale media lank nie soveel as wat Cecil die leeu die land, en die hele wêreld, aangegryp het nie. Iewers is iets skeefgetrek.

Of die media (alleen) die skuld hiervoor moet kry, is nie maklik om te antwoord nie. ’n Onlangse peiling in die VSA dui daarop dat die meeste Amerikaners steeds glo die media is eerstens op sensasie, en dan eers op nuuswaarde ingestel. Soms is dit waar, maar so ’n algemene oordeel is waarskynlik te kras.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621