Twee mense is dood in ʼn botsing Vrydagaand op die Long Tom-pas ongeveer 15 km buite Lydenburg in Mpumalanga.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het die botsing as “gruwelik” beskryf. “Netcare 911 het saam met verskeie ander nooddienste omstreeks 20:33 by die toneel opgedaag. Stukke van die voertuie se wrakke het oral in die pad gelê, met die twee verongelukte voertuie in die middel van die pad,” het hy gesê.
“Nadat paramedici die insittendes assesseer het, het hulle gevind dat twee mense aan veelvuldige beserings beswyk het. Drie ander het ernstige beserings opgedoen en moes na verskillende hospitale gehaas word.”
Volgens Botha is dit nie duidelik hoe die ongeluk plaasgevind het nie, maar die nodige ondersoek sal gedoen word.