
ʼn Gegradeerde muntstuk van oudpresident Nelson Mandela wat die diewe op die toneel agtergelaat het. Foto: SAPD
Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is op 5 Desember by die huis van ʼn 78-jarige man en sy vrou van Virginia ingebreek. Die egpaar was glo uitstedig vir die naweek en het hul 26-jarige kleindogter gevra om na hul huis om te sien.
“Toe die kleindogter die dag van die werk af kom, het sy gesien daar is by die huis ingebreek. Sy het een van die bure gaan roep omdat sy bang was dat die rowers dalk nog in die huis kon wees,” het Mokhuoane gesê.
Nadat hulle ondersoek ingestel het, het hulle gesien dat ʼn plasma-TV uit die huis gesteel en die kluis oopgebreek is. ʼn Muntversameling wat oor die afgelope 30 jaar bymekaargemaak is, R80 000 kontant, ʼn vuurwapen met ammunisie, asook juwele is uit die kluis vermis.
“Weens die sensitiewe aard van die ondersoek kan die identiteit van die muntversamelaar nie bekendgemaak word nie,” het Mokhuoane gesê.
Hy het enigiemand met meer inligting versoek om die ondersoekbeampte ao. Johannes de Lange by 082 782 6353 te bel.