Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Zoeloe-Koning gekap oor pro-apartheiduitsprake

$
0
0

Koning Goodwill Zwelinthini. Foto: DoC

Koning Goodwill Zwelinthini. Foto: DoC

Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini is Maandag oor die kole gehaal vir sy uitsprake die afgelope naweek waarin hy die suksesse van die apartheidregering geloof het.

Zwakele Mncwango, leier van die Demokratiese Alliansie (DA) in KwaZulu-Natal, het die koning se aanmerkings veroordeel en dit as “onverantwoordelik” bestempel.

Die koning het na bewering die aanmerkings Saterdagaand by sy waKhethomthandayo-paleis in Nongoma gemaak tydens die viering van sy 44 jaar as die Zoeloe-monarg. Die koerant The Mercury het Maandag berig Zwelithini het gesê die Nasionale Party het ʼn magtige regering op die been gebring met die sterkste ekonomie en weermag op die kontinent, voordat “die sogenaamde demokrasie gekom het waartydens swart mense die voordele van die verlede verwoes het”.

Die koning het na bewering gesê die geskiedenis sal swart mense ten sterkste veroordeel omdat hulle misluk het om op die suksesse van die Afrikaner-regime voort te bou. “Die ekonomie wat ons nou het, word afgebrand. Julle wil nie bou op dit wat julle geërf het nie. Julle gaan julself aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind,” het die koning glo gesê.

Mncwango het die koning herinner dat hy vergeet dat die suksesse van die apartheidregering behaal is ten koste van die massa wat onderdruk is. “Ons vind dit uiters onverantwoordelik vir ʼn leier om ʼn wrede en onderdrukkende regime te bewonder wat vir jare en jare mense van kleur onderdruk, doodgemaak en uitgebuit het,” het hy gesê.

“Ons dink die monargie moet eerder erken dat dinge in die land nie so rooskleurig was onder die apartheidregering nie. Terwyl ʼn klein minderheid die voordele van die apartheidregering geniet het, was die land eintlik besig om inmekaar te stort.”

Mncwango het gesê die koning moenie vergeet dat die kontinent se sterkste weermag teen sy eie mense gebruik is om ʼn minderheid mense in beheer te hou nie. Hy het verder gesê die probleme in die land is nie weens apartheid nie, maar weens “’n regering met beleidstellings wat slegs ʼn paar hooggeplaaste individue bedien”.

“Die huidige ekonomiese beleidstellings van die regerende ANC doen baie min, indien enigiets, om die wanbalans van die verlede te herstel,” het hy gesê.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621