
Foto: Rescue Care
Meer as 50 motorongelukke is tussen Vrydag- en Maandagoggend in en om Durban aangemeld.
Die meeste hiervan is vermoedelik toe te skryf aan die reën wat oor KwaZulu-Natal uitgesak het.
Volgens Rescue Care het die meeste ongelukke op die M13 naby die Westwood-inkopiesentrum plaasgevind en op die N2, in albei rigtings, naby die Spaghetti- en Umgeni-wisselaars.
Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het ʼn ernstige ongeluk Vrydagaand by die Newlands- en Inanda-wisselaars plaasgevind. “Twee voertuie het gebots en die een het gerol voordat dit op sy dak te lande gekom het. Paramedici moes meganiese toerusting gebruik om die vier insittendes te bevry. Nadat die beseerdes gestabiliseer is, is hulle na ʼn plaaslike hospitaal geneem.”
Jamieson het ʼn beroep op bestuurders gedoen om stadiger te ry, veral in die nat weer, en om te verseker dat hulle voertuie padwaardig is.