
Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook
Die raad het Vrydag tydens ʼn vergadering riglyne uit die Taalkomitee se verslag goedgekeur. Daar is beslis “Engels word die primêre medium van onderrig in voorgraadse opleiding, asook – soos dit reeds tot ‘n groot mate gebeur – in nagraadse opleiding”.
Die raad het gesê die UV moet ‘n “taalryke omgewing skep en bevorder wat tot veeltaligheid verbind is, met besondere aandag aan Afrikaans, Suid-Sotho, Zoeloe en ander tale wat op die drie kampusse verteenwoordig word”.
‘n Uitgebreide studieklas-stelsel sal vir eerstejaarstudente in Afrikaans, Suid-Sotho, Zoeloe en ander tale beskikbaar wees om die oorgang na onderrig in Engels te “vergemaklik”. Die raad het gesê die parallelle voertaalbeleid in bepaalde professionele programme sal voortgaan, gegewe die duidelik gedefinieerde Afrikaanse markte wat sodanige taalspesifieke graadvoorbereiding tans steeds toepaslik maak.
Die universiteit se administrasietaal sal voortaan Engels wees. “Die Engelse voertaalbeleid sal met buigsaamheid en begrip in werking gestel word, eerder as ‘n onbuigsame reël wat nie die omstandighede in ag neem nie.”
Die universiteit het gesê die besluit van die raad is geneem nadat die universiteitsbestuur in Junie ʼn mandaat gekry het om die institusionele taalbeleid te hersien. “’n Taalkomitee is gevolglik deur die universiteitsbestuurskomitee (UBK) tot stand gebring om ‘n omvattende hersiening van die bestaande parallelle voertaalbeleid te onderneem en om aanbevelings oor die pad vorentoe met betrekking tot die universiteit se taalbeleid te maak.”
“Hierdie belangrike en emosionele aangeleentheid is tydens ʼn oop debat van hoë gehalte bespreek en ek is tevrede met die wyse waarop die besluit geneem is,” het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, gesê.
Volgens die universiteit het die Taalkomitee ʼn omvattende konsultasieproses met al die belanghebbendes van die universiteit onderneem. “Dit het onder meer verskeie dialoog- en voorleggingsessies, asook ‘n meningspeiling, op al drie kampusse ingesluit. Met die raadsbesluit van 4 Desember 2015 as riglyn, sal die UV-bestuur nou voortgaan om ‘n Taalbeleid te ontwerp wat weer vir stemdoeleindes aan die UBK en die Senaat voorgelê sal word. Die uitslag van die stemming sal tydens een van sy 2016-bestuursvergaderings formeel aan die raad voorgelê word.”
Die universiteit het gesê indien ‘n nuwe taalbeleid in 2016 deur die raad aanvaar word, sal die vroegste moontlike datum vir die inwerkingstelling daarvan Januarie 2017 wees.