
Argieffoto
Tweelingboeties (26) en ʼn 18-jarige medepligtige is altesaam tot 55 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ʼn vrou in Noordwes.
“Die 26-jarige tweeling, Thabang Godfrey Montsho en Kgangetsile Sydney Montsho, is elk tot 20 jaar tronkstraf gevonnis,” het maj. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hul 18-jarige medepligtige, Buti Aaron Mareko, is op 1 Desember in die Itsoseng-streekshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.”
Volgens Makau het ʼn 27-jarige vrou en vier mansvriende op 25 September 2010 van Bodibe af huis toe gestap nadat hulle ʼn kerkdiens bygewoon het. “Drie mans het hulle voorgekeer en met messe gedreig. Hulle het die slagoffer na ʼn afgeleë huis in die gebied geneem en haar die hele aand lank al om die beurt verkrag.”
Die aanvallers het die vrou in die ou huis agtergelaat en sy later huis toe gaan en het die polisie in kennis gestel.
“Mareko is dieselfde dag nog in hegtenis geneem en die tweeling is ʼn paar weke later in hegtenis geneem,” het Makau bygevoeg.