Clik here to view.

Carlia, Thea en Phillip du Preez. Foto: Facebook
Die man wat Donderdagoggend beweer het hy was in sy motorhuis terwyl twee verdagtes sy gesin in sy huis in Vanderbijlpark in Gauteng doodgeskiet het, is in hegtenis geneem op aanklag van moord.
Kapt. Tsekiso Mofokeng, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die man is omstreeks 15:00 in hegtenis geneem.
“Verdere ondersoek en ondervraging na die man se weergawe van die verloop van gebeure het tot sy inhegtenisneming gelei. Hy het teenstrydige verklarings gegee en kon ook nie belangrike vrae beantwoord nie,” het Mofokeng gesê.
Mofokeng het gesê die man sal in die hof verskyn sodra al die administratiewe take afgehandel is. Hy is in aanhouding by die Vanderbijlpark-polisiestasie.
Maroela Media het vroeër berig ʼn ma en haar twee tienerkinders is Donderdagoggend in hul huis in Vanderbijlpark in Gauteng doodgeskiet terwyl hulle geslaap het.
Die pa het beweer hy was omstreeks 04:00 in die motorhuis besig toe hy skote in die huis gehoor het.
“Volgens die man het hy gaan ondersoek instel en toe hy naby die huis kom, is hy deur ʼn gewapende man gekonfronteer. ʼn Struweling het ontstaan waartydens die verdagte sy vuurwapen laat val het. Die verdagte kon daarin slaag om los te kom toe ʼn medepligtige ook uit die huis gestorm het. Die twee mans het op die vlug geslaan,” het Mofokeng vroeër die dag gesê.
Mofokeng het gesê die man het gaan ondersoek instel en sy vrou, dogter en seun dood in die huis aangetref. Hulle het al drie verskeie skietwonde aan die bolyf opgedoen.
Die oorledenes is intussen geïdentifiseer as Thea du Preez (41) en haar kinders Carlia (17) en Phillip (14). Nelius du Preez, Thea se neef, het intussen op Facebook hulde gebring: “Rip Nig saam jou twee awesome kinders. Jul los groot leemte (sic)”.