
Tanya Swanepoel kort voor die jagluiperd haar aangeval het.
WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.
Tanya Swanepoel (34), ʼn ma van drie van Steelpoort in Limpopo, sterk tuis aan nadat sy Sondag by ʼn lodge in Middelburg, Mpumalanga, deur ʼn jagluiperd aangeval is.
“Dit was my tweede besoek aan die lodge. Ek en ʼn vriendin het ons kinders die dag daarheen geneem om lekker te gaan ontspan, min wetend wat op my sou wag,” het Swanepoel Woensdag aan Maroela Media gesê.
Swanepoel het gesê sy is ʼn groot diereliefhebber en wou nog altyd interaksie met wilde diere hê. “Die vorige keer toe ons daar was het ons met die welpies gespeel. Dis ʼn belewenis wat nie elke mens die kans kry om te doen nie. Dit was ʼn groot droom van my om met jagluiperds interaksie te hê en ook om op olifante te ry, maar ek is nou vir eers heeltemal daarvan genees,” skerts sy.
Sy sê sy is omstreeks 13:00 saam met ʼn hanteerder in die jagluiperd se hok in nadat sy ʼn vrywaringsvorm geteken het. “Ek het by die jagluiperd gesit en hom gevryf. Die hanteerder het foto’s van ons geneem. Toe ons opstaan om te loop toe dink hy seker ek lyk lekker en gryp my.”
Die jagluiperd het sy kloue in Swanepoel se linkerbors en regterboud ingeslaan waarna hy haar aan haar linkerkuit gebyt en sy kake gesluit het.
“Die hanteerder kon hom nie los kry nie. Sy het hulp ontbied en daar was later vier werkers. Hulle het die jagluiperd met water gegooi en sy snoet toegedruk, maar niks wou werk nie. Iemand het toe uiteindelik ʼn brandblusser gebring en die kat daarmee verjaag.” Dít het alles gebeur terwyl Swanepoel se drie kinders, onderskeidelik drie, ses en agt jaar oud, moes toekyk.
“Dit is moeilik om te sê, maar ek dink die aanval het sewe minute geduur. Dit was verskriklik seer. Ek het net gehoop dat ek nie my been gaan verloor nie. Ná die aanval het die personeel dadelik noodhulp toegepas en ʼn ambulans ontbied. My kinders is na die restaurant geneem om hulle nie verder te ontstel nie. ʼn Halfuur later was ek in die Life Midmed-hospitaal.”
Swanepoel is Dinsdag geopereer om die wond skoon te maak en te heg. Sy is Woensdag ontslaan. “Dit is nog te vroeg om te sê of daar permanente skade gaan wees. Daar gaan beslis letsels wees, maar ek is gelukkig in die opsig dat my bene en ligamente nie beskadig is nie.”
Sy het gesê sy moet Vrydag vir ʼn opvolgondersoek gaan en gaan na verwagting Maandag ʼn veloorplanting moet kry.
Swanepoel is vir niemand kwaad nie en het gesê sy hoop nie die jagluiperd word enige leed aangedoen nie. “Dit is wilde diere, nie huiskatte nie. ʼn Mens moet dit altyd in gedagte hou en besef daar is ʼn risiko. Ek sal weer die lodge gaan besoek, maar sal nie weer my voete in ʼn wilde dier se hok sit nie,” het sy bygevoeg.
WAARSKUWING: Die foto is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.
