
Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons
Obama het die situasie probeer ontlont deur aan te voer dat die IS die gemeenskaplike vyand is. Daarenteen voer Poetin aan Turkye is betrokke in olietransaksies met die Islamiese Staat (IS).
Poetin beweer hy het nuwe bewyse dat olie uit die IS-gebiede na Turkye vervoer word en dat dit die rede is waarom Turkye ʼn Russiese vegvliegtuig afgeskiet het. Die Russiese vegvliegtuig het glo oor die roete waar die olie vervoer word gevlieg.
Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het aan Poetin gesê indien Rusland kan bewys dat Turkye in die geheim sake doen met die IS, hy sal terugtree as president van Turkye. Dié woordewisseling volg nadat Poetin Maandag sanksies teen Turkye ingestel het. Dis veral die invoer van Turkse vrugte en groente na Rusland wat onmiddellik die gevolge van die verbod gevoel het.
Verskeie joernaliste het glo ook onlangs inligting oor die “swart handel” van olie tussen Turkye en die IS bekom. Van die joernaliste het in Turkse tronke verdwyn en een Amerikaanse joernalis is blykbaar dood in ʼn motorongeluk nadat sy sodanige inligting bekom het.
Intussen het die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) sy steun aan Turkye gebied en lugafweerstelsels na die land gestuur. Die VSA meen ook dat Turkye die reg het om sy lugruim te beskerm.