Die ongeluk het gebeur by die kruising van Garsfontein- en Netcareweg in Moreletapark. Kobie Delport, ʼn ooggetuie, het Vrydag aan Maroela Media gesê hy het in Garsfonteinweg by die verkeerslig gewag toe hy die ongeluk sien gebeur het.
“’n Swart Mercedes Benz was in die baan wat regs in die straat in gedraai het. Die lig was al rooi toe die bestuurder wel besluit het om ʼn kans te waag en vinnig voor die aankomende verkeer in te draai. Die motorfiets het natuurlik vinniger as die ander voertuie weggetrek en het die Mercedes teen die linkerkantse agterdeur geslaan,” het hy vertel.
Volgens Delport het die motorfiets omgeslaan en bo-op die motorfietsryer beland. “Ek het dadelik uitgespring en na hom toe gehardloop. Die bloed het by sy valhelm uitgestroom. Hy het nog so drie keer ingeasem en toe is hy dood.”
Die bestuurder van die Mercedes het glo langs die pad afgetrek, maar nie uit sy motor geklim om te kyk of die motorfietsryer beseer is nie. “Hy het net in sy motor gesit en op sy foon gepraat. Ek het vir hom gesê om net daar te bly en nie die toneel te verlaat nie.”
Delport het na die Pretoria-Oos-hospitaal reg oorkant die pad gehardloop om paramedici te roep. Die motorfietsryer was egter reeds dood en paramedici het die liggaam met ʼn kombers toegegooi.
“Sowat tien minute later het nog ʼn motor daar gestop en ʼn goed-geklede man met sulke blink skoene het uitgeklim. Ek het hom dadelik herken as die pa van een van die families in die realiteitsreeks Vuzu Rich Kids. Hy het met die bestuurder in die Mercedes gepraat wat ek aangeneem het is sy seun is en toe is die twee in die pa se motor daar weg. Die Mercedes het net daar langs die pad bly staan.”
Delport het gesê die polisie het later by die toneel opgedaag, maar nie sy of ander ooggetuies se verklarings afgeneem nie en slegs hul kontakbesonderhede gevat. “Tot nou toe het die polisie my nog nie gebel om ʼn verklaring te kom afneem nie,” het hy gesê.“Ek wil net so graag weet wie die motorfietsryers se familie is. Ek wil net so graag vir hulle vertel wat gebeur het en vir hulle sê hy was nie alleen toe hy dood is nie. Iemand was darem by hom.”
Kapt. Coba Brits, woordvoerder van die polisie, wou nie die naam van die motorbestuurder bekendmaak of bevestig dat hy op ʼn televisie-realiteitsreeks verskyn nie. Brits het ook ontken dat die bestuurder die toneel verlaat het voordat die polisie opgedaag het. “Al wat ons nou kan bevestig is dat ʼn saak van strafbare manslag ondersoek word,” het sy gesê.
Die seun van een van die families in die televisiereeks het intussen op Twitter gesê bewerings wat teen hom gemaak word oor die ongeluk is onwaar. Hy het gesê hy sal ʼn verklaring oor die saak uitreik.