
Prins Harry Foto: @kensingtonroyal, Twitter
Prins Harry het Maandag die Afrika-son aangedurf tydens sy besoek aan Kaapstad.
Hy het onder andere ʼn plaaslike sokkerkliniek, die Grassroots Football for Hope-sentrum, in Khayelitsha besoek terwyl die temperatuur ongeveer 40 grade Celsius was. Die span 10 – 12 jariges het saam met hul beroemde gas opwarmingsoefeninge gedoen. Die prins het hande geklap, sy lyf geswaai en sy bene geskop op die maat van die ritmiese opwarmingsliedjie. Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, het as assistent opgetree.
Buitelandse en plaaslike media het vergader om ʼn foto van die prins in kasie te kry, maar plaaslike inwoners het hul min aan die opgewondenheid gesteur en eerder in hul huise en uit die bloedige son gebly.
Die Britse Raad ondersteun Football for Hope deur die Premier Skills-program en EPL-afrigters en skeidsregters om plaaslike afrigters op te lei en te inspireer, om sodoende hul vaardigheid aan die jong spelers oor te dra.
Premierligaklubs, Everton FC, Fulham FC en Sunderland FC het afgevaardigdes gestuur om hul breiersvaardighede oor te dra.
Die besoek aan Khayelitsha was Harry se derde besoek vir die dag in Kaapstad.
Hy het vroeër by die V&A Waterfront ʼn spesiale orde-eerbewys van die koningin aan emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu oorhandig vir sy diens aan die Britse gemeenskap, internasionale vrede en versoening.
Hy het ook ʼn besoek afgelê aan die Ottery- jeugsorg- en opleidingsentrum waar hy met die kinders gesels het en eende en hoenders gevoer het. Die kinders het van hul kunswerke aan hom oorhandig, waaronder ‘n foto van hom en sy ma, prinses Diana, op ‘n stuk gekerfde hout. Hy het hulle gelukgewens dat hulle so goed vaar op skool.
Hy het die naweek in die Paarl deurgebring waar hy op die Val de Vie-landgoed deelgeneem het aan die jaarlikse Sentebale Royal Salute-polobekerreeks.
Prins Harry is nog tot 3 Desember in Suid-Afrika. Hy vertrek Dinsdag na Durban, en sal daarna besoek aflê aan die Kruger-wildtuin en Johannesburg.



















