
Die geldwa waarop die bende losgebrand het. Foto: SAPD
Twee veiligheidswagte van G4S is Maandag lig beseer nadat ʼn groep van nagenoeg tien verdagtes tydens ʼn transitorooftog in Limpopo op hulle losgebrand het.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het op die pad tussen Mokopane en Roedtan plaasgevind.
“Die tien verdagtes het in ʼn BMW en ʼn bakkie gery. Hulle het op die geldwa losgebrand en dit gedwing om tot stilstand te kom,” het Otto gesê.
Sy het gesê die bende het probeer om ʼn kluis in die wa oop te blaas met plofstof, maar het dit nie reggekry nie.
“Hulle het slegs met geldsakke vol munte gevlug. Dit is nie dadelik bekend hoeveel geld hulle gebuit het nie.”
Die polisie het die verdagtes se verlate voertuie sowat 6 km van die toneel af aangetref. “Die polisie is nog besig om vas te stel watter soort vuurwapens die verdagtes gebruik het en waar die voertuie vandaan kom.”
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.


