
Argieffoto
Meer as 5.94 miljoen belastingbetalers het Vrydag die sperdatum vir die belastingseisoen van 2015 gehaal, het Jonas Makwakwa, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Sondag gesê.
Makwakwa het die belastingbetalers bedank wat hul verantwoordelikheid nagekom het. “Dit is ʼn noemenswaardige prestasie. Ons is trots op die hoogste vlak van fiskale burgerskap wat die belastingbetalers getoon het. Baie dankie, Suid-Afrika, hierdie belastingseisoen behoort aan die miljoene belastingbetalers wat betyds hul opgawes ingedien het.”
Die 5.94 miljoen opgawes is 11.52% hoër as in 2014. Die getal sluit individue en trusts in. Nakoming vir belastingbetalers is vir die derde jaar meer as 90%.
Van die opgawes wat teen 27 November ingedien is, was 4.2 miljoen vir individue in die 2015-belastingjaar en 1.69 miljoen was opgawes wat nog uitstaande was vir vorige jare. Altesaam 45 390 trusts het opgawes ingedien.
Altesaam 99.96% van die opgawes is elektronies ingedien, óf deur eFiling (51.84%), óf elektronies by ʼn SAID-tak of mobiele belasting-eenheid. Minder as 2000 opgawes (0.04%) is per hand ingedien.
Meer as 95% van alle opgawes is binne drie sekondes geassesseer en meer as 99% binne 24 uur. SAID het 1.82 miljoen terugbetalings gedoen ter waarde van R15 miljard. Meer as 95% van hierdie terugbetalings is binne 72 uur afgehandel.