
Argieffoto
ʼn 31-jarige man moet Maandag in die Schweizer-Reneke landdroshof in Noordwes verskyn in verband met diefstal uit ʼn motor.
“ʼn Vrou het Donderdagmiddag omstreeks 16:00 haar motor parkeer en nie opgemerk dat iemand ʼn warsender gebruik om te verhoed dat haar motor met ʼn afstandbeheerde toestel kan sluit nie,” het sers. Kealeboga Molale, woordvoerder van die polisie, gesê.
Molale het gesê die verdagte het in die motor geklim en die deur toegemaak om glo items uit die motor te steel, toe die vrou by die winkel ingegaan het.
“Veiligheidsbeamptes het gesien wat gebeur het en die vrou in kennis gestel. Sy het weer die afstandbeheer gebruik om die motor te sluit, en die verdagte is binne-in die motor toegesluit,” het Molale gesê. “Die polisie is na die toneel ontbied en die man is in hegtenis geneem.”
Die polisie doen ʼn beroep op voertuigeienaars om te alle tye waaksaam te wees en seker te maak hul voertuie het wel gesluit.
Die ondersoek duur voort.