
Argieffoto
WAARSKUWING: Die inhoud van die berig is baie grafies van aard en is nie geskik vir sensitiewe lesers en kinders nie.
ʼn Klein hond is Donderdagaand glo deur ʼn 26-jarige man van Sasolburg in die Vrystaat tydens ʼn vermeende ritueel doodgemaak en geslag.
Marlien Pieterse, woordvoerder van Vereeniging en Vanderbijlpark se Dierebeskermingsvereniging (DBV), het Vrydag gesê die voorval het in die Zamdele- informele nedersetting plaasgevind.
“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die hond met ʼn hamer op die kop geslaan en met ʼn tou verwurg is. Die hond is oopgesny en die hart is verwyder. Die verdagte het die hond se bloed oor sy lyf gesmeer,” het Pieterse gesê.
Pieterse het gesê volgens ooggetuies het die hond vir ʼn paar minute lank erg van die pyn getjank terwyl dit lewend geslag is.
“Daar word beweer dat die hond as deel van ʼn ritueel geoffer is en dat die hart deur die verdagte geëet is. Daar word ook geglo dat enigiemand wat in aanraking met die hond se bloed kom, sal doodgaan aangesien dit vervloek is,” het sy bygevoeg.
“Die hondjie se karkas het op die vloer van die huis gelê en al sy organe het uitgepeul. Daar was bloed oral in die kamer. Ek sal nooit dié ontstellende toneel vergeet nie,” het inspekteur Lycinda Visser gesê.
Die hond se karkas is na ʼn onafhanklike dierehospitaal geneem vir ʼn nadoodse ondersoek.
Die verdagte is deur die Zamdela-polisie in hegtenis geneem op aanklag van dieremishandeling.