
Argieffoto
Merkel het sonder om te veel besonderhede verskaf, gesê dit is duidelik die Islamitiese Staat (IS) moet met militêre toerusting beveg word. Duitsland stel ʼn vegskip en verskeie “Tornado”-verkenningsvliegtuie beskikbaar.
Laurent Fabius, Frankryk se minister van buitelandse sake, het die eerste keer aangedui hulle oorweeg om met Sirië se Assad-regering saam te werk. Dit sal ook help om Rusland se huidige militêre slaankrag teen die IS te verbeter.
Brittanje se premier, David Cameron, het die Franse president François Hollande ook die Britte se ondersteuning beloof. Cameron is hoopvol dat die Britse parlement hiervoor toestemming sal gee. Volgens die Britse parlement is een ding nog nodig in die geveg teen die IS, naamlik ʼn strategie. Cameron wil so ʼn strategie aan die Britse parlement voorlê binne die volgende paar dae.
Hollande soek nog ondersteuning en sal binnekort die Amerikaanse president Barack Obama ontmoet. ʼn Ontmoeting met die Russiese president Wladimir Poetin word ook beplan en die ontmoeting met Italië se staatshoof, Matteo Renzi, het goed verloop. Renzi is veral bekommerd oor die IS in Libië, wat volgens hom die volgende groot brandpunt gaan wees. Italië staan die uitwissing van die IS voor, maar sal tans geen militêre ondersteuning na Sirië stuur nie. Italië wil eerder op Libië konsentreer, want die IS het in November reeds baie mense daar onthoof, vermoor of vermink. Ongeveer 140 000 vlugtelinge het in die afgelope maande in Italië aangekom.
Ook China het hom teen die IS se optrede uitgespreek. Griekeland se minister van verdediging, Dimitris Vitsas, het dit duidelik gemaak dat Griekeland te diep in die skuld sit en nie finansieel sterk genoeg is om enige militêre hulp te verskaf nie. Boonop het 218 394 vlugtelinge verlede maand net in Griekeland aangekom. Iets wat nie openlik genoem word nie, is dat baie Grieke ook ʼn diepgewortelde vrees het oor optrede van Turkye in die toekoms. Rusland noem Turkye ʼn tweegesig wat heimlik wel die IS ondersteun.
Merkel het vandeesweek selfs beloftes gemaak van aparte skole net vir Turkse kinders in Duitsland, op voorwaarde dat hulle wel ook Duits in die skole leer. Daarmee probeer Duitsland die Turke se goedgesindheid teen die IS bewerkstellig.
As afsluiting kan mens bloot nadink oor die woorde van Cameron: “Dit is duidelik dat die wêreld saamkom om bose terreurbedreigings te oorwin. Dit is asof alle leiers vermoed dat oorlog die enigste manier is om die IS te oorwin.”