
Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com
Regter Dennis Davis het gesê die aanstelling was “onwettig en irrasioneel.” Davis het in sy uitspraak gesê ondanks Faith Muthambi, minister van kommunikasie, se “duidelike voorkeur” vir Motsoeneng, het haar besluit om hom verlede jaar permanent aan te stel “ingedruis teen wettigheid”.
Die beslissing kom nadat die appèlhof in Oktober gelas het Motsoeneng moet vir 60 dae geskors word terwyl ʼn tugverhoor vir sy beweerde oortredings gehou word.
Die uitgerekte regsgeveg oor Motsoeneng het begin toe die Demokratiese Alliansie (DA) hof toe gegaan het nadat adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, se aanbevelings nie nagevolg is nie. Madonsela het onder meer vroeër bevind Motsoeneng se aanstelling was onregmatig en hy het buitensporige salarisverhogings ontvang en oor sy kwalifikasies gelieg.
Motsoeneng is sedert verlede maand vrywillig met verlof terwyl ʼn dissiplinêre verhoor teen hom voortduur. Hy is verlede jaar permanent aangestel as die uitvoerende bedryfsbeampte ondanks talle bevindings teen hom.
In September is bekend gemaak dat Motsoeneng se salaris die afgelope jaar met nagenoeg ʼn miljoen rand gestyg het. Volgens die SAUK se jaarverslag, wat in die parlement ter tafel gelê is, het Motsoeneng se salaris die afgelope finansiële jaar gestyg van R2 872 000 tot R3 784 000. Dit sluit ʼn bonus van R279 000 in.