
Argieffoto
Willies Mchunu, LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en samewerking in KwaZulu-Natal het ʼn versoek, dat die doodstraf weer ingestel moet word, van die hand gewys.
Mchunu het reageer op eise deur die Nasionale Vryheidsparty (NVP) dat ʼn referendum oor die doodstraf nodig is.
“Ons kan nie terugkeer na ʼn primitiewe era waar die staat mense doodmaak nie,” het Mchunu gesê. “Daar is geen bewyse om die bewering te staaf dat die doodstraf tot ʼn afname in misdaad lei nie. Die versoek skep vals hoop.”
Die debat het in die wetgewer voortgeduur, ondanks die DA-koukusleier wat daarop gewys is dat só debat in die Nasionale Vergadering moet plaasvind, en nie in die provinsiale wetgewer nie.
Die NVP het gesê dit is hoog tyd dat die saak in die lig van die provinsie se hoë misdaadstatistiek hersien moet word. “Dit is nou al 21 jaar sedert die ANC aan bewind is. Kom ons gaan na die mense toe en kry hulle reaksie,” het Erickson Zungu, provinsiale adjunkvoorsitter van die party, gesê. Hy het gesê statistiek dui daarop dat gewelddadige misdaad toeneem en die reeks aanvalle op die polisie is ʼn bewys dat daar sterk opgetree moet word teen misdaad.
Die DA-koukusleier, Sizwe Mchunu, het gesê die onbeheerste vlakke van misdaad is ʼn bewys van ʼn onsuksesvolle leierskap, en hy het spesifiek na LUR Mchunu en die provinsiale polisikommissaris lt.genl. Mmamonnye Ngobeni verwys. “Wat kan mens verwag van ʼn LUR wat nie komiteevergaderings bywoon waar misdaadkwessies bespreek word nie? Die feit van die saak is dat mens nie baie kan verwag indien leierskap ontbreek nie.”
Vusi Khoza van die Ekonomiese Vryheidsvegters het gesê aanvalle op die polisie is as gevolg van woede van die gemeenskapslede. “Wanneer mense kla oor dienslewering, word hulle soos Andries Tatane geskiet. Wanneer hulle beter salarisse wil hê, word hulle geskiet soos in Marikana, en wanneer studente eis dat studentegeldverhogings opgeskort moet word, skiet die polisie op hulle. Watter houding verwag jy van die publiek?” wou Khoza weet.
Nhlanhla Msimang van die Inkatha Vryheidsparty en Shameen Thakur-Rajbansi van die Minority Front het gesê hulle ondersteun die versoek om ʼn referendum vir die doodstraf.