
Argieffoto
ʼn 36-jarige man is vandeesweek in Noordwes gevonnis in verband met die verkragting van sy 13-jarige dogter wat swanger was ná die voorval.
“Die man, wie se naam nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die kind te beskerm, is tot in die Atamelang-streekshof tot 30 jaar tronkstraf gevonnis,” het sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die ma van die kind het haar op 10 November 2010 na ʼn plaaslike kliniek geneem waar hulle bepaal het dat sy swanger is. Sy was in daardie stadium 13 jaar oud. Sy wou eers nie bekend maak wie die pa van die kind is nie, maar het later die dag aan haar ma gesê dit is haar biologiese pa wat haar seksuele mishandel.
“Die ma en die dogter het saam besluit om die kind te laat aborteer,” het Moleko bygevoeg.
Die saak is by Sannieshof-polisie aangemeld en die man is in hegtenis geneem. Hy is later vrygelaat op borgtog terwyl die DNS-toetse gedoen is. Hy het egter die polisie bly ontduik totdat hy op 27 Februarie 2013 weer in hegtenis geneem is. Hy was in aanhouding tot hy Donderdag gevonnis is.
Die man is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van verkragting en vyf jaar tronkstraf op aanklag van bloedskande.
“Die man sal sy tronkstraf by Rooigrond- korrektiewe sentrum uitdien,” het Moleko gesê.