
Argieffoto
Die Noordwes-polisie is op soek na die bestuurder van ʼn groen Toyota Corolla, met ʼn nommerplaat waarop slegs 117NW sigbaar was, wat na bewering ʼn driejarige seuntjie doodgery het.
Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Woensdag om 19:44 in Ikageng, Potchefstroom, plaasgevind.
Volgens ʼn ooggetuie het die verdagte se motor die seuntjie getref en toe van die toneel weggejaag.
Die polisie vermoed dat die kleuter raakgery is toe hy die pad probeer oorsteek het. Volgens die aanklaer was die verdagte se nommerplaat net gedeeltelik sigbaar, aangesien dit reeds donker was toe die voorval plaasgevind het.
Die kleuter het ernstige beserings aan sy enkels, kop en maag opgedoen. Hy is na die Potchefstroom-hospitaal vervoer waar hy aan sy beserings beswyk het.
Die Ikageng-polisie is steeds op soek na die verdagte en versoek die gemeenskap om vorendag te kom met inligting oor die bestuurder van die motor. Bel die Ikageng-polisie by 018 295 173.
Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.