Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: IS en die einde van die wêreld

$
0
0

eindtyd-wereldEindtydprofesieë, of eerder oorlewerings, en die oprigting van die sogenaamde tweede kalifaat speel ’n belangrike rol in die motiverings vir die bestaan van die IS en sy wrede terreurdade.

Ná die terreuraanvalle in Parys is daar wêreldwyd opnuut pogings om agter die kap van die byl van die Islamitiese Staat (IS – soms nog verkeerdelik ISIS of ISIL genoem) se skynbare affiniteit vir bloedvergieting te kom. Die studies uit haas elke veld van die gedragswetenskappe is nie ongeldig nie, maar kan nie alles verklaar sonder om die rol van eindtydprofesieë te verstaan nie.

’n Groot deel van die mensdom, ongeag die godsdiens wat aangehang word, is behep met die eindtyd. Ook Christene trap voortdurend in die slaggat, al is dit ook die een geheim wat nie eens die Seun nie, maar net die Vader, ken.

Ná haas elke berig oor ’n aardbewing sal iemand skryf dat die “toename” in aardbewings ’n teken van die eindtye is. Vroeër vandeesweek het die aarde sy 16de aardbewing van 7 of meer vanjaar beleef. Dit maak 2015 wel een van die groter aardbewingjare vir sterk aardbewings die afgelope dekade, maar dis onwaarskynlik dat  2010 se 21 sterk aardbewings vanjaar nog oortref sal word.

Tog het minstens twee Amerikaanse evangeliese TV-kanale reeds permanente kameras op Jerusalem se Tembelberg gerig om “binnekort” die wederkoms regstreeks te kan fotografeer en te beeldsend.

Die Christendom is egter nie al godsdiens wat ʼn eindtyd verwag nie. In Islam speel dit eweneens ’n groot rol – nie altyd volgens die voorskrifte in die Koran nie, maar volgens oorgelewerde tradisies. Veral in die Sjiïete se opvattings speel dit ’n groot rol.

Maar die IS is in die Soenie-vertakking van Islam gesetel, en meer spesifiek in die Salafistiese vertakking daarvan. Die “detail” oor die eindtyd, en die rol wat die sogenaamde tweede kalifaat daarin gaan speel, verskil baie. Dr. Leopold Scholtz het reeds verskeie kere die pen opgeneem oor die rol van die kalifaat-konsep in die IS. In wese kom dit daarop neer dat die IS glo hy is besig om sy profetiese rol te vervul, en dat wreedheid ’n sterk onderdeel daarvan sal wees.

Op die oog af lyk dit egter of die IS sy beheptheid met die kalifaat en die eindtye nie uit sy eie godsdienstige dampkring gaan put het nie, maar oorkant die grens in die Sjiïtiese Iran. Vir ’n hele aantal jare word periodiek berig oor die huidige hoof-ajatolla, Ali Khameini, se beheptheid met die tweede kalifaat en die eindtye. ’n Kerndeel hiervan is die oortuiging dat die “twaalfde iman,” bekend as die Mahdi, binnekort sy opwagting sal maak, en ’n wêreldwye Islamitiese kalifaat sal oprig. Die Mahdi sal deur Jesus as ondergeskikte bygestaan word en miljoene mense sal sterf, ook wreed sterf, om die volkome Islamitiese kalifaat te stig. Khameini glo hy is die Mahdi se verteenwoordiger op aarde.

Khameini het van Iranse militêre basis na basis gereis om die soldate behoorlik oor die eindtye te skool.

Omdat min of niks van die Mahdi-opvattings in die Koran vervat is nie, is die weergawes en vertolkings daarvan wyd uiteenlopend. Dit maak die verstaan van dit wat die IS onderlê baie moeiliker.

Die ironie is dat Iran en die IS vyandig teenoor mekaar staan, en selfs in gewapende konflik teen mekaar te staan kom.

Die meerderheid Moslems beskou die IS-“kalifaat” van Abu Bakr al-Baghdadi as ’n vals kalifaat. Nogtans trek dit djihadiste, soms selfs jong meisies uit lande soos die VSA en België, om te gaan aansluit. Vir die manne is daar die vooruitsig van 72 beeldskone maagde sou hulle in die stryd omkom.

Dit gaan baie moeilik wees om die IS en sy dampkring te vernietig. Aanhangers van eindtyd-opvattings kan besonder fanaties wees, en terugslae word eenvoudig in ander kontekste geplaas en verstaan. Om die IS-ondersteuners te probeer verlei met die aantreklike vrugte van ’n vry, Westerse beskawing, het eweneens min hoop op sukses omdat die Weste met sy sedelike verval met die satan self gelyk gestel word.

En vir ’n toenemend sekulêre Weste raak dit al hoe moeiliker om die dryfkragte van godsdiens in menslike optrede te verstaan.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621