
Lymen Malambo besig om die slaggate in die pad te vul met sement. Foto: Vanessa Courtenay
ʼn Vrou se foto op Facebook van ʼn hawe- en werklose man van Hartbeespoort in Noordwes wat op sy eie slaggate vul, kan moontlik daartoe lei dat ander werklose mense in die omgewing geholpe word.
Lymen Malambo (25) het besluit om vir homself werk te skep en hy het slaggate op die Ou Wapad in Hartbeespoort begin vul. Toe Vanessa Courtenay, ʼn inwoner in die gebied, Saterdag verby hom ry waar hy hurkend in die pad besig was om ʼn slaggat met sement te vul, het sy besluit om stil te hou.
“Ek wou hy hom weet vir wie hy die werk doen,” het sy aan Maroela Media gesê. “Lymen het gesê hy doen uit sy eie die werk. Toe ek hom vra wie vir hom die geld gee, het hy ʼn strokie uit sy broeksak gehaal en vir my gewys dat hy self die sakkie sement gekoop het met geld wat hy van motoriste gekry het.”
Volgens Courtenay het sy met sy toestemming ʼn foto van hom geneem en dit op ʼn Facebook-blad gelaai. Dit is binne ʼn paar uur meer as 1 000 keer gedeel.
“Ek het oorspronklik gehoop dat minstens 20 mense van die omgewing dalk bereid sou wees om vir hom R10 te gee wanneer hulle verby hom ry,” verduidelik sy. “Die inskrywing is egter reeds byna 11 000 keer gedeel met meer as 16 000 ‘likes’.”
Courtenay het gesê sy is ook oorval met boodskappe van inwoners van Hartbeespoort, asook boodskappe uit Dubai, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk. “Almal wou geld bydra omdat Lymen nie bedel nie, maar inisiatief geneem en begin werk het. Die geld wat hy wel by mense gekry het, het hy eers gebruik vir sement voordat hy kos gekoop het.”
Volgens haar het die regsfirma Webber Wentzel intussen aangebied om al die skenkings wat instroom te belê in ʼn nie-winsgewende organisasie genaamd The Lymen Project.
“Lymen gee nie net vir homself om nie, hy wil ook hê dat ander werklose mense in die omgewing gehelp moet word. Met dié projek van Webber Wentzel word daar dus ook werkskepping beplan. Ons wil net verseker dat Lymen hieruit voordeel trek en dat die geld reg bestuur word,” het Courtenay bygevoeg.
Lymen sal intussen opleiding ontvang by ʼn anonieme organisasie. “Ons het baie raad ontvang dat sement nie die beste oplossing is nie, omdat teer verkrummel en die sement dan hoër as die res van die pad is. Dié organisasie gaan ook die eerste paar sakke materiaal aan hom skenk,” het Courtenay gesê.