Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Bipolêr: Die swart hond met die bont kolle

$
0
0

bipoler-infografika-2“Die swart gat van depressie trek my die dieptes in en ek spiraal na onder teen ʼn verbysterende spoed. Die pad afwaarts bring ʼn angstige verlies aan positiwiteit; ek het energie vir niks – iewers het die lus om te lewe in die gespin verdwyn. In my eie oë is ek waardeloos en gee niemand om nie. My kop is vol wol en my gedagtes onsamehangend. Op die bodem van die diep gat is hoeke en draaie waar gedaantes dans en die skadu’s maak nie sin nie,” beskryf Liza,* wat aan bipolêre gemoedsversteuring ly, ’n depressiewe episode.

Wat is bipolêre gemoedsversteuring?

Bipolêre gemoedsteuring (kortweg bekend as bipolêr) is, volgens Sadag (Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep), ’n biologiese siekte wat gekenmerk word deur ekstreme skommelings in gemoedstoestand, energievlakke en optrede. ’n Lyer se gemoed wissel tussen episodes van maniese en diepe depressie met tye van normale gemoedservaring tussenin. Daar is twee hooftipes bipolêre gemoedsversteuring wat as bipolêr 1 en bipolêr 2 bekend staan. Lyers met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 1, het reeds ten minste een maniese en verskeie fases van ernstige depressie belewe. Tipe 2 verskil van tipe 1 deurdat lyers nog nooit volle manie beleef het nie, maar wel hipomanie (’n minder ernstige vorm van manie), afgewissel met ernstige depressiewe fases.

Simptome en diagnose

Volgens Sadag is die diagnose van bipolêre gemoedsversteuring klinies van aard. Dit beteken dat dit gegrond is op die pasiënt se beskrywing van sy of haar gemoedskommelinge. ’n Diagnose is ingewikkeld en moet verkieslik deur ’n mediese spesialis gedoen word nadat die pasiënt behoorlik geëvalueer is.

Dr. Gert Venter, ’n psigiater van Pretoria, verduidelik dat lyers met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 2, dikwels verkeerd gediagnoseer word omdat hulle slegs hulp soek in die depressiewe fases. “Die hipomaniese fase word selde aangemeld omdat lyers goed voel,” voeg hy by. “Dit is daarom altyd belangrik om uit te vra na hipomaniese of maniese simptome. Indien ’n pasiënt swak reageer op behandeling moet die diagnose áltyd herevalueer word. Dit is dus nuttig as geliefdes by die diagnoseproses betrokke is.”

Indien ’n pasiënt reeds vir depressie behandel word en die simptome nie verbeter nie, bestaan daar ’n moontlikheid dat hy of sy eerder aan bipolêre gemoedsversteuring ly. So ’n pasiënt kan vir ’n paar maande antidepressante met welslae gebruik, maar dan agterkom dat die depressie erger raak. Indien hy of sy dan met bipolêr gediagnoseer word, moet die medikasie aangepas word aangesien die behandeling van bipolêre gemoedsversteuring aansienlik verskil van dié van depressie.

Klik hier om meer te lees oor diagnose en behandeling.

Belang van medikasie

Volgens dr. Venter is dit belangrik dat die lyer die regte medikasie en behandeling ontvang.

Hy verduidelik dat medikasie die lyer se gemoed stabiliseer en dat langtermynbehandeling, soos met enige ander chroniese siekte, nodig is. Skielike staking van medikasie kan tot onttrekkingsimptome en episodes van terugval lei. Hy beklemtoon ook dat die medikasie en dosisse gereeld hersien moet word – veral wanneer die lyer ’n depressiewe of maniese fase beleef.

Bipolêre gemoedsversteuring kan moontlik met die volgende tipes medikasie behandel word: gemoedstabiliseerders, antipsigotiese middels en antidepressante in sekere gevalle.

Volgens Suzette Heath, kliniese sielkundige van Tokai, Kaapstad, het navorsing bevind dat psigoterapie tesame met medikasie die beste resultate bied. Sielkundiges speel dus ook ’n beduidende rol in die behandeling van bipolêre gemoedsversteuring.

Die gevaar van manie of hipomanie

Liza, wat aan bipolêr, tipe 2 ly, is ’n suksesvolle kunstenaar. Sy beskryf hipomaniese episodes: “Hipomanie is wonderlik. Ek sien kans vir net mooi álles wat oor my pad kom. Ek het genoeg energie om bomenslik hard en vinnig te werk: My verstand is helder en gefokus. Op skool het dit my gehelp om goed te presteer op akademiese, kulturele en sportvlak. Nou kan ek tydens hipomanie kreatief aan kunsprojekte werk en ongelooflik baie kunswerk produseer. Ek raak ook baie vrolik en spandabelrig en het ’n groot behoefte om sosiaal te verkeer.”

“Pasiënte met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 1, loop erger deur onder die probleme wat manie meebring. Hipomanie is minder destruktief en lyers se sosiale funksionering en werk word nie belemmer nie,” verduidelik dr. Venter. “Dit is egter belangrik dat lyers ook tydens hierdie fase hulp soek aangesien hulle dikwels impulsief optree en, byvoorbeeld, groot bedrae geld uitgee. Dit plaas finansiële druk op die lyer en sy of haar gesin.”

Volgens Sadag kan ’n lyer wat erge manie belewe selfs psigoties raak en kan opname in ’n psigiatriese hospitaal nodig wees. Gevoelens van euforie, slaaploosheid, oordrewe selfvertroue, grootheidswaan en hallusinasies is ook simptome van erge manie. Die feit dat die simptome maklik en dikwels met dié van skisofrenie verwar word, is problematies.

Dr. Venter bevestig ook dat die feit dat ’n depressiewe fase byna áltyd op ’n maniese of hipomaniese fase volg, gevaarlik kan wees. Dit is dus belangrik dat die pasiënt proaktief optree. Indien die nodige aanpassings in medikasie betyds gemaak word, kan die depressiewe fase vermy word. Geliefdes moet die lyer aanmoedig om betyds hulp te vra.

Bipolêr en selfmoord

Heath bevestig dat selfdoodgedagtes en -pogings dikwels deel vorm van die depressiewe fase. Sy verduidelik: “Die moedelose lyer sien géén ander uitkoms nie. Dit is ’n uiters stresvolle tyd vir die lyer sowel as geliefdes.”

Dr. Venter beklemtoon dat dit lewensnoodsaaklik is om elke keer onmiddellik hulp te kry. “’n Aanpassing in die medikasie en opname in ’n kliniek is dikwels nodig om ’n veilige omgewing te skep waarbinne die lyer kan herstel. Dit verlig ook die druk op ondersteuningsisteme.”

My geliefde ly aan bipolêr. Wat nou?

In die depressiewe fase ervaar die lyer gevoelens van verwerping, isolasie, selfbejammering en ’n lae selfbeeld. Die lyer verbreek ook dikwels kontak met geliefdes en dit kan stremming op verhoudings plaas. “In die depressiewe fase ontstaan daar ’n sterk gevoel van mislukking en wanhoop by die lyer. Hartseer en angstigheid is ook kenmerkend. Die lyer se selfvertroue bereik ’n laagtepunt en dit het tot gevolg dat kontak met vriende en geliefdes verbreek word. Eintlik is die ondersteuning van geliefdes dan broodnodig,” verduidelik Heath.

Dr. Venter gee verder raad: “Ondersteuning en empatie sowel as struktuur is noodsaaklik. Moedig die lyer aan om konstruktief besig te bly.”

Dit is problematies as die lyer en die geliefdes ver van mekaar woon aangesien ondersteuning dan baie moeilik is. Volgens dr. Venter is ’n ondersteuningstelsel in die lyer se onmiddellike omgewing noodsaaklik. Aangesien familie dikwels ver is, is dit gewoonlik huweliksmaats, vriende en medewerkers. Daar is ook talle ondersteuningsgroepe vir lyers én geliefdes – al is hulle ver – wat waardevolle ondersteuning bied.

Geliefdes voel ook dikwels dat hul hande afgekap is – hulle kan niks vir die lyer doen nie. Volgens dr. Venter is familieterapie nuttig om geliefdes te bemagtig. Heath stem saam en bevestig dat geliefdes groot baat vind by ondersteuningsgroepe. Dan kan hulle sien dat dit normaal is om hulpeloos en skuldig te voel en ook raad kry oor hoe om dit te hanteer.

Dit is nie net die depressiewe fase wat stremming op verhoudings plaas nie. Heath bevestig dat ander mense dikwels nie in die maniese of hipomaniese fase kan byhou nie. “Daar is geen keer aan die lyer nie en dit kan moontlik misverstand en konflik veroorsaak.”

Sadag gee raad aan geliefdes wat ’n bipolêre lyer ondersteun:

  1. Help die lyer om reg gediagnoseer te word en behandeling te ontvang.
  2. Stel vas of daar ondersteuningsgroepe in die omtrek is. Dit help om vrese, bekommernisse en gevoelens rondom die siekte met ander in dieselfde situasie te deel. Sadag het ’n lys van meer as 250 ondersteuningsgroepe landwyd.
  3. Stel alles wat jy moontlik kan rondom die siekte vas. Kennis is werklik mag.
  4. Ondersteuning is belangrik en die lyer moet bewus wees van die feit dat jy omgee.
  5. Moedig die lyer aan om saam met die familie op uitstappies te gaan en deel te neem aan aktiwiteite.
  6. Moenie die lyer probeer dwing om vrolik te wees nie. Depressie is een van die endogene simptome.
  7. Dit is belangrik om te luister. Probeer vasstel wat die lyer se drome, gevoelens en behoeftes is.
  8. Behandel die lyer so normaal moontlik en nie soos ’n kind nie.
  9. Dreigemente om selfdood te pleeg moet ernstig opgeneem word. Soek dadelik hulp.

Wat van die stigma?

“Die stigma wat aan psigiatriese siektes kleef, getuig van oningeligtheid,” sê dr. Venter. “Kennis is mag en ’n oningeligte mening doen meer skade as goed. Elkeen wat met die siekte te doen kry moet help om dit te destigmatiseer.” Hy beklemtoon ook dat bipolêre gemoedsversteuring ’n siekte met ’n biologiese oorsprong is – net soos diabetes of hoë bloeddruk. Heath voeg by dat die lyer beskou moet word as ’n “persoon met ’n siekte genaamd bipolêr” en nie as “’n bipolêr” nie.

Klik hier om Sadag se bipolêr-vraelys af te laai indien jy vermoed dat jy moontlik aan bipolêre gemoedsversteuring ly. Sadag beveel sterk aan dat die uitkoms van die vraelys met ’n mediese praktisyn bespreek word.

En onthou dan die liriek van Amanda Strydom se bekende lied:

“Strydom Amandla
Manies depressief
so staan dit opgeteken in my dokter se argief
sy praat te veel
sy lag te hard
Daar’s stemme in haar kop
die wanbalans is bipolêr
ons sluit haar liewers op …”

(Lees ook hier wat sy in 2008 aan Deon Knobel op LitNet vertel het oor haar bipolêre gemoedsversteuring. Amanda ly aan bipolêr, tipe 1.)

* ’n Skuilnaam is gebruik om die bipolêr-lyer se identiteit te beskerm.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!