
Argieffoto (Foto: imgkid.com)
ʼn Inwoner van Lyttelton in Centurion het Maandagaand sy gesin teen vier aanvallers tydens ʼn gepoogde huisroof beskerm, maar is kritiek gewond in die voorval.
Ao. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê vier verdagtes het omstreeks 21:00 op die huis toegeslaan. Die huiseienaar, in sy 40’s, was tuis saam met sy vrou en twee laerskoolkinders.
“Hulle het toegang tot die huis bekom en is in die huis deur die gewapende eienaar verras. ʼn Verdagte is in die huis noodlottig gewond, maar die man is in sy bors getref. Sy vrou is ook in die skouer gewond. Die ander drie verdagtes het gevlug. Twee van hulle is kort daarna deur die gemeenskap en plaaslike veiligheidsdienste aangekeer en in hegtenis geneem,” het Miller gesê.
Volgens Loot van Dyk, voorsitter van Lyttelton Crime Stop-buurtwag wie se patrolleerders binne ʼn minuut op die toneel was nadat alarm gemaak is, is die man in ʼn kritieke toestand in die huis aangetref. Die vrou se toestand was stabiel.
“Ons beraders het dadelik die egpaar se kinders uit die huis begelei en buite in ʼn voertuig veilig gehou totdat hul familielede opgedaag het om na hulle om te sien,” het Van Dyk gesê.
Paramedici en die polisie is ontbied. Die man en vrou is na die Unitas-hospitaal gehaas vir behandeling.
Van Dyk het Dinsdagoggend van die slagoffer se pa verneem dat hy onder verdowing in die trauma-eenheid van die hospitaal is. Sy toestand is steeds kritiek. Die vrou is ook steeds in die hospitaal. Haar toestand is bevredigend.
Hy het gesê die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is binne minute ná die voorval ʼn blok vanaf die toneel aangekeer.
Volgens Miller kon die vierde verdagte daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek. Die polisie het ook tydens die voorval op ʼn ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.
Die twee verdagtes moet binnekort in die hof verskyn waar hulle teregstaan op aanklagte van poging tot huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Van Dyk het veral Lyttelton se sektor 2 GPF-patrolleerders, bestaande uit Lyttelton Crime Stop, Lytcom en KROC, asook Orange Fox Security, Monitor Net, Inyathi Protection Service, Orange Fox Medical Response, Emer-G-Med, ER24, Netcare 911 en die polisie bedank vir hul spoedige optrede.